Vriendeliker NGV-witskrif kom glo

Vriendeliker NGV-witskrif kom glo

By Nellie Brand-Jonker, 22 May 2017, netwerk24.com.

’n Nuwe weergawe van die beleidskrif oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gaan binnekort aan die kabinet voorgelê word waarin groter deelname deur die private sektor in die vooruitsig gestel word.

Die nuwe witskrif maak glo voorsiening daarvoor dat die private sektor ’n baie groot rol in die NGV sal speel.

Dit is as ’n redelike ommekeer van die vorige witskrif beskryf.

Sprake van die verandering is die afgelope weke op vergaderings wat die direkteur-generaal van gesondheid, Precious Matsoso, met leiers van die gesondheidsbedryf gehou het, geopper.

Dit witskrif is in Desember 2015 uitgereik. Die publiek het tot Maart 2016 gehad om kommentaar daarop te lewer. In Februarie het die nasionale tesourie gesê die witskrif se finale weergawe word gefinaliseer nadat meer as 160 voorleggings ontvang is.

Die bedryf is nou ook gevra om aan ’n pakket van voordele vir die NGV te begin werk.

Dit het die huidige onderhandelinge in die medieseskemabedryf ontspoor om die verpligte voordele te hersien.

Elke mediese skema word tans verplig om dieselfde stel voordele te dek wat as voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s) bekend staan.

Daar is baie klagtes oor die huidige voordele en dat dit die premies van mediese fondse opjaag.

Dr. Sipho Kabane, waarnemende registrateur van mediese skemas, het aangekondig die konsultasieproses oor die hersiening van die VMV’s is onbepaald uitgestel.

“Die besluit is geneem ná konsultasie tussen die nasionale departement van gesondheid en belanghebbendes. Die besluit is ook geneem om belanghebbendes genoeg tyd te gee om gekonsolideerde insette vir die NGV-proses te verskaf op uitnodiging van die departement. Dit sal alle belangrike belangegroepe ook die kans gee om die VMV-hersieningsproses met die nuwe beleidsontwikkeling in pas te bring.”

Dr. Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van Discovery Health, sê hy weet nie hoekom die proses vertraag is nie, maar “dit is ’n krities belangrike proses vir die gesondheidstelsel. Ons bly hoopvol dat daar binnekort weer daarmee begin sal word”.

Dr. Elsabé Conradie, hoof van belangeverhoudinge van die Raad op Mediese Skemas (RMS), sê die besluit volg nadat Matsoso die RMS besoek het en met die hoofde van mediese skemas en ander belanghebbendes oor die NGV gepraat het. “Sy het hulle genooi om insette te lewer oor hoe die private gesondheidsektor ’n rol in die ontwikkeling van die NGV kan speel.”

Boshoff Steenekamp, hoof van strategiese projekte van Momentum se gesondheidsafdeling, sê die onderhandelinge oor die NGV veroorsaak dat die onderhandelinge oor ’n nuwe VMV-pakket vir die medieseskemabedryf ongelukkig agterweë bly.

Hy sê die beleidskonteks is baie belangrik wanneer daar oor verpligte voordele onderhandel word.

“Daarom is dit baie belangrik om te weet waar die NGV heen gaan en wat die verwagtinge en die beleidskonteks is, want dit bepaal grootliks wat in die pakket gaan wees.

“Daar moet groter finaliteit oor die beleid wees. As daar nie beleidskonteks is nie, kan ’n pakket nie ontwerp word nie.”

Rapport het Sondag berig volgens Graham Anderson, hoofbeampte van Profmed, wat die vergadering bygewoon het, het Matsoso te kenne gegee die plan is nie meer om mediese fondse uit te skuif nie.

Luidens die NGV-witskrif wat einde 2015 gepubliseer is, sou mediese fondse in hul huidige vorm verbied word en net toegelaat word om “aanvullende” dekking te bied vir dienste wat nié deur die NGV gedek word nie.

Cosatu het verlede Dinsdag ’n halfuur voordat die departement van gesondheid sy begrotingsrede voorgelê het, sy misnoeë met die oënskynlike ommekeer uitgespreek.

Cosatu meen die departement is besig om die NGV af te water omdat die voorstel is dat dit ’n stelsel van veelvuldige aankopers (mediese fondse) gaan wees en nie net een enkele NGV-fonds soos aanvanklik in die witskrif aangedui is nie.

Cosatu wil nie hê die private sektor moet deelneem aan die NGV nie, selfs nie eens om ingekontrakteer te word om dienste te verskaf nie.

Sizwe Pamla, nasionale woordvoerder van Cosatu, sê met ’n enkele fonds word bedoel die rykes moet die armes subsidieer.

Volgens hom gaan die voorstel daartoe lei dat talle mediese fondse bestaan en dit gaan kruissubsidiëring van die armes deur die rykes ondermyn.

“Cosatu sal veg daarvoor om te verseker die herverspreiding van hulpbronne deur die NGV is ten gunste van die werkersklas,” sê Pamla.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het in sy begrotingsrede na Cosatu se uitlatings oor die “multi-betalerstelsel” verwys en heftig ontken hy “verkoop die NGV uit”.

“Daar is niks in ons beleidsdokumente wat hierdie dinge sê nie. Ek sal nooit die NGV uitverkoop nie en ek weet waaroor die NGV gaan. Ek is bereid om die NGV met my lewe te verdedig!”

Steenekamp sê die vooruitsig is verskillende mediese skemas wat die NGV-pakket gaan aanbied. Die bedryf wil glo twee pakkette hê.

HASA Pulse 2022

Read the latest HASA Pulse by clicking here

Search Centre

News Archives

Fill in your details to

Sign Up for Our Monthly Newsletter

We don’t spam. Our newsletter is filled with research articles and HASA related content and announcements.