‘Swak mediese sorg vir almal’

‘Swak mediese sorg vir almal’

By Elaine Swanepoel, 11 December 2016, netwerk24.com.

Swak gesondheidsorg is álle Suid-Afrikaners se voorland as die regering voortgaan met die nasionale gesondheidsversekering (NGV).

Luidens ’n verslag wat Woensdag deur die Suid-Afrikaanse ­Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) bekend gemaak is, sal die NGV ervare dokters landuit dryf en die volhoubare voort­bestaan van private gesond­heidsorg in Suid-Afrika ernstig ­bedreig.

Die regering het ook nie die mannekrag óf die geld om so ’n gesondheidsplan uit te voer nie en medici kan maande op betaling en voorraad wag.

“In stede van gehaltegesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners, sal die peil van gesondheidsorg in alle sektore skerp daal wanneer die staat beheer oorneem oor elke aspek van die stelsel,” sê ­dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing aan die SAIRV en outeur van die verslag.

“Die vraag na gesondheidsorg sal ook die aanbod ver oorskry en alle landsburgers sal lank wag op behandeling.”

Die regering wil hê die NGV moet teen 2025 beter toegang tot hoëgehalte­gesondheidsorg vir armes bied en aan almal dieselfde voordele in staatshospitale en deelnemende private hospitale bied. Lidmaatskap sal verpligtend wees en private siekefondse sal nie dieselfde voordele as die NGV mag bied nie.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het hom Woensdag op ’n mediakonferensie opnuut daartoe verbind om die plan “tot elke prys” deur te voer.

Volgens die regering se berekeninge in 2010 sal die NGV teen 2025 R256 miljard kos, maar ­Jeffery sê dit sal veel meer wees.

“As die plan nou ingestel sou word, sal die regering R396 miljard per jaar nodig hê om 300 voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s) vir 55 miljoen Suid-Afrikaners te finansier,” lui die ­verslag.

VMV’s is ’n lys van toestande wat alle mediese skemas ingevolge die wet moet dek, ongeag of die pasiënt al hul mediese plan se beperkings bereik het.

“As mediese koste boonop teen die huidige tempo van 9% ’n jaar toeneem, sal die plan ons teen 2026 R782 miljard kos. Dit is 17% van die huidige BBP.”

Volgens Econex, ’n ekonomiese konsultant, sal die tekort in 2025 R210 miljard beloop en nie R79 miljard soos die regering beweer nie.

Dr. Chris Archer, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse ­Forum vir Private Praktisyns (SAPPF), sê Jeffery is in die kol.

“Ek dink die tekort aan geld gaan baie meer wees as wat die regering voorspel en daar gaan klomp dinge wees wat die NGV nie kan finansier nie,” sê Archer.

Hy twyfel ook in die staat se administratiewe vermoë en voorspel vertragings in die uitbetaling vanuit die NGV-fonds aan dokters en medisyneverskaffers.

“Dié sal verreweg die grootste administratiewe liggaam in Suid-Afrika wees en as ons kyk na die doeltreffendheid waarmee ander staatsinstellings uitbetalings doen, is die kans op sukses nie baie groot nie.”

Volgens die verslag sal die NGV na raming 220 miljoen betalings per jaar moet maak en kan dokters maande wag om betaal te word.

“Ek dink dit kan beslis dokters in die private sektor noop om die land te verlaat,” sê Archer.

Die verslag waarsku dat indien die NGV boonop versuim om verskaffers van medisyne en mediese toerusting te betaal, sal private hospitale óók sonder die nodige hulpmiddels wees om ’n behoorlike diens te lewer.

Jeffery se verslag wys daarop dat die NGV die einde kan beteken van private gesondheidsorg in Suid-Afrika omdat siekefondse nie sal kan oorleef as hulle net “bykomende dekking” kan bied tot dit wat die NGV verskaf nie.

“Private hospitale en private dokters sal ook al hul selfstandigheid verloor omdat hulle afhanklik is van die staat vir betaling.

“Hulle sal nog hospitale kan besit, maar nie ’n wins daaruit kan maak nie, wat neerkom op onteiening sonder vergoeding.”

Dr. Mahlane Phalane, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging se werkersvakbond, sê siekefondse is nie onskuldig nie.

“Baie pasiënte met ’n siekefonds kan steeds nie behandeling vir lewensgevaarlike siektes bekostig nie en dokters wag soms maande op betaling,” sê hy.

“Die NGV is beslis nie foutloos nie, maar dis nodig om ’n middeweg te vind waardeur ons die vaardighede van die private sektor kan aanwend om toegang tot gehaltesorg aan almal te bied.”

HASA Pulse 2022

Read the latest HASA Pulse by clicking here

Search Centre

News Archives

Fill in your details to

Sign Up for Our Monthly Newsletter

We don’t spam. Our newsletter is filled with research articles and HASA related content and announcements.